Familienaam

Die oudste dokument waarop hierdie familienaam verskyn is ’n kerklike staat gedateer 21 Maart 1400. Daarop verskyn die jaarlikse bydrae aan die Kerk wat van die Kryghe-hus ontvang is – ’n boerdery in die Graafskap Lingen naby aan die westelike grens van Duitsland aan Nederland. In daaropvolgende dokumente word dieselfde familienaam meestal as Kriege aangetref, maar variasies soos Krige of Crigee of Krigee kom ook voor.

Hof Kriege deur Rudolph Kriege – skets vanaf foto (1896)
Hof Kriege deur Rudolph Kriege – skets vanaf foto (1896)

Wat sou die familienaam Kryghe dan beteken – ’n spontane vraag wat dikwels gevra word? Op versoek van die Krige-Bond het ’n Duitse etimoloog navorsing gedoen en die volgende oor die betekenis van die woord gevind:

  • Dit het geen verband met kryger/soldaat nie
  • Dit verwys eerder na ’n gesindheid of houding van ’n persoon wat omskryf kan word as  styfhoofdig/onversetlik

Variasies op familiename kan dikwels ook herlei word na amptenare se skryffoute. So het daar in die vroeë jare ’n variasie Krigo aan die Kaap ontstaan. Daar is in ou opgawes na die eienaar van Uiterwyk-plaas as Burger Johannes Krigo verwys. Hierdie fout het met tyd uit die omgang verdwyn. ’n Ander fout wat egter meer blywend geword het, is die foutiewe uitspraak van Kriegie wat veral in die noordelike provinsies posgevat het.

Heimat

In die westelike deel van Duitsland is daar ’n streek bekend as die Teutoburger Wald. Die eerste vermelding van hierdie gebied verskyn in die opgetekende geskiedenis in die jaar 9 nC wanneer die plaaslike Germaanse stamme ‘n roemryke oorwinning oor die Romeinse legioene van Varius behaal het.

Die Kryghe-Hus sou baie jare later in dieselfde gebied opgerig word.

Lugfoto van Kriege-opstal, 1950
Lugfoto van Kriege-opstal, 1950

Vandag is daar nog verskeie van die kleinere dorpies in dié streek met ‘n lang geskiedenis waarin die Krieges ‘n rol gespeel het: Lienen en Brochterbeck en Hagen. Die voorgeslagte was hoofsaaklik kleinboere, maar een familietak in die dorpie Lienen het welvarende handelaars geword.

Links: Krieges voor Das Hohe Haus in Lienen. Regs: Ode en Johan Krige besoek Lienen 1978
Links: Krieges voor Das Hohe Haus in Lienen. Regs: Ode en Johan Krige besoek Lienen 1978

So is daar vandag nog die Hotel Kriege wat sy 250ste bestaansjaar in 1975 gevier het. ‘n antieke lamp uit die oorspronklike gebou is vandag deel van die Krige Museum in Stellenbosch. Aan die oorspronklike Wesfaalse houtbalk vir olielampe hang vandag drie nuwe glaslampies met die name Lienen, Brochterbeck en Hagen daarop.

Talle Kriges uit Suid-Afrika het in later jare besoek gaan aflê in hierdie Heimat van die Kriges. En telkens het hulle oor hul ervarings verslag gedoen. Dat hierdie kontak met hul oer-wortels hul emosies aangespreek het, was telkens baie opvallend. Verskillende weergawes het al in die Krige Nuusbrief verskyn.

Aankoms aan die Kaap

Die werklike rede vir die emigrasie van Willem Adolph Kriege (WAK) is nooit gedokumenteer nie. Maar ‘n beskouing van die geskiedenis maak dit baie duidelik: die haglike omstandighede in Wesfale na die verwoesting tydens die Dertigjarige Oorlog, het dit vir meeste families uiters moeilik gemaak om te oorleef. Seuns en jongmans het twee keuses gehad: word soldaat in diens van die heersers en sneuwel êrens op ’n onbekende slagveld of val in die pad, klim op ‘n skip en hoop vir die beste.

Reformierte Kirche, Brochterbeck. Die SA stamvader is hier in 1698 gedoop.
Reformierte Kirche, Brochterbeck. Die SA stamvader is hier in 1698 gedoop.

So besluit WAK om sy heil elders te gaan soek. Hy neem afskeid van sy familie, pak sy rugsak met slegs die noodsaaklikste en begeef hom te voet na die Hollandse hawestad Dordrecht. Na die finalisering van sy VOC-kontrak, bestyg hy die fluitskip Het Vaderland getrouw en verlaat die land vanaf die hawe in Goeree. Vier maande later op 22 Julie 1721 gooi sy skip anker in Tafelbaai en hy kry die geleentheid om aan wal te gaan. Dit is hier dat hy besluit om eerder in die Kaap te bly wanneer die VOC-vlootskepe hul reis na die Ooste voortsit. Hy bly in diens van die VOC.

WAK word vervolgens kneg by die Franse Hugenoot De Villiers op die plaas Boschendal. Hy werk getrou vir sy werkgewer en na vyf jaar tree hy in die huwelik met die boer se dogter. Sy skoonvader help hom om sy eie plasie langs die Bergrivier te koop waar sy kinders gebore word. Hulle is nog bloedjonk as hy sterf en sy weduwee met drie wesies agterlaat.

Verspreiding

Jare later is sy twee seuns vooruitstrewende boere op die plase Groote Zalze en Uiterwyk, beide in die distrik van Stellenbosch.

Stellenbosch in die tyd van die Tweede Generasie: akwarel deur Schumacher in 1776
Stellenbosch in die tyd van die Tweede Generasie: akwarel deur Schumacher in 1776. Die pad na regs kruis die Eersterivier en loop voor Stellenbosch-berg aan Groote Zalze verby.

Die derde geslag van Groote Zalze verhuis na die Paarl vanwaar ook hulle nageslag weer verder verhuis – na die Piketberg-omgewing en ander weer na die ZAR. 

Die nageslag van Uiterwyk daarenteen bly nog vir twee of meer generasies in die omgewing van Stellenbosch en vorm mettertyd agt van die twaalf Krige-takke in Suid-Afrika.

In die agste en negende generasies van die Kriges in Suid-Afrika is daar ‘n groeiende tendens om weer te emigreer. Dit is asof hulle die reis van hul stamvader na die Ooste wil voltooi en vestig hulle veral in Australië en New Zealand. Heel dikwels is hulle die Kriges wat weer na die wortels van hul familie by die Krige-Bond navraag doen.

Kriege-Fees in Lienen, 1978
Kriege-Fees in Lienen, 1978. Sien ook Krige Nuusbrief 68.

Oor baie jare het ander Krieges vanuit Wesfale na ander dele van die wêreld ge-emigreer. Die Krige-Bond het met vele in die VSA en in Nederland kontak opgebou en oor-en-weer besoeke het ook al plaasgevind. Die Kriges in die RSA bevind hulself nie heeltemal in isolasie nie!

Meer oor ons herkoms

Heraldiek

Die Krige familiewapen toon ’n man met ’n swaard in sy hand. Sy mondering bevestig egter dat hy eerder ’n handelaar is en beslis nie ’n kryger nie...

Lees verder