Die Kriges is nie een van die talrykste en bekendste families in Suid-Afrika nie. Miskien is dit deels te wyte aan die feit dat daar slegs een immigrant met dié spesifieke familienaam na die land gekom het. Gevolglik was dit dan ook moontlik om op enkele uitsonderings na al sy afstammelinge sedert sy aankoms aan die Kaap in 1721 sinvol aan dieselfde stamboom te koppel.
In SA is daar oor die afgelope 300 jaar sowat 3 500 persone met die familienaam Krige gebore. Hiervan is ongeveer die helfte reeds afgestorwe. Elkeen van hierdie indiwidue koppel sydelings met sy tydgenote sowel as terugwaarts met sy voorgeslag of voorwaarts met sy eie nageslag. Dit vorm ‘n groot legkaart met 3 500 stukkies wat elkeen ‘n unieke plekkie vul. Hierdie legkaart is veral in die periode 1970 tot 1973 volledig nagevors en die stukkies inmekaar geplaas. Daaruit het ‘n heel indrukwekkende prentjie ontstaan!
Die vorm van die legkaart is driehoekig: die stamvader heelbo gevolg deur generasies 2 en 3 tot by 10 of 11. Met elke generasie word die basis van die driehoek natuurlik breër. In 1973, tydens die groot Krige-Fees in Stellenbosch is al hierdie inligting op ‘n muurpaneel aangebring en aan die feesgangers ten toon gestel. Die basis van dié paneel was 6m lank!
Hierdie aanvanklike inligting is ook vervat in die publikasie Die Familie Krige : Herkoms en Genealogie van 1973 deur Johan Krige.
Sedertdien is bykomende data deurlopend versamel en gereeld aangeteken. En in die elektroniese era is die ou en die nuwe inligting op ‘n genealogiese program geplaas en word dit steeds van tyd tot tyd aangevul. Met die herontwerp van die webtuiste van die Krige-Bond in 2020 is ook die genealogiese program gemoderniseer. Die tak-indeling het egter basies dieselfde as in 1973 gebly.
Ordening van inligting
Om die onderlinge samehorigheid tussen familiegroepe te versterk, is die groot driehoek in kleiner driehoeke verdeel. In generasie 4 is sogenaamde Krige-takke gekies en elkeen van hierdie takke het ‘n toepaslike naam gekry. Die totale omvang van die genealogiese data is dus in onderstaande 12 familie-takke onderverdeel:
- Eerste Vier Generasies aan die Kaap – 1700 tot ongeveer 1850
- Paarl-tak – ‘n gesinsgroep wat net na 1800 vanaf Stellenbosch na die Paarl verhuis
- ZAR-tak – ‘n familiegroep wat teen 1855 uit die Paarl na die ZA Republiek verhuis
- Piketberg-tak – twee broers wat teen 1870 uit die Paarl na Piketberg verhuis
- Uiterwyk-tak – vyf broers van Uiterwyk wat 1880 na die binneland verhuis
- Prins Albert-tak – een predikant wat teen 1845 na die Karoo verhuis
- Vredelust-tak – oudste broer wat as boer teen 1870 in Stellenbosch vestig
- Oude Libertas-tak – tweede broer wat as boer teen 1870 in Stellenbosch vestig
- Libertas Parva-tak – derde broer wat as boer teen 1870 in Stellenbosch vestig
- Caledon-tak – vierde broer wat as predikant teen 1880 in Caledon vestig
- West End-tak – vyfde broer wat as winkelier teen 1880 in Stellenbosch vestig
- Bottelary-tak – vier broers waarvan drie as boere teen 1880 in Bottelary vestig.
Hoe kan die familie met opdatering help?
Dit is vanselfsprekend nodig om deurlopend aandag te skenk aan die opdatering van al die registers en adreslyste. Daar is verhuisings, huwelike, sterftes en interessante gebeurtenisse wat aangeteken moet word. Oor baie jare is hierdie taak deur die Kurator van die Krige- Argief behartig. Maar omdat Johan onlangs aan ‘n omvattende nuwe boek oor die Kriges in Suid-Afrika begin werk het, het hy ‘n paar lede van sekere Krige-takke gevra om as Sleutelpersone op te tree. So ‘n Sleutelpersoon neem die inisitief om met oop oë na gebeure binne sy of haar tak te kyk en om dan nuwe inligting aan Johan te stuur.